Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
Deon Hugo-Reeks :Website Builder
1-Op die Drumpel :2-Gaudeamus Igitur :3-die Werkende Jongmens
"Yna, dyna, dana, das . . ." :Die selfbedienings-godsdiens :Ken jy die stad waar die Boerevolk woon? :Die tweedag-leeglê-week :'n Geestelike dieet :Die "haaifaai" Mammon :Van 'n man se rib tot "womens lib" :'n Kruisie wat die toekoms maak :Die tolhekke na die altaarpad :Hoor jy die magtige dreuning?
Web Title

n ons kinderspel moes daar dikwels "gepiek" word - d.w.s. 'n persoon moes uit die groep aangewys word om 'n sekere taak te verrig. Een van die lawwe rympies wat dan gebruik is, het gelui: "Yna, dyna, dana, das - skotla, wyna, wana, was - ienk, pienk, blêk, poeding, stienk". Van persoon tot persoon het die niksseggende rympie gevorder. Die een by wie die woorde geëindig het met die woord "stienk", was dan "aan".

Toe ek my gespreksgenoot vir hierdie boekie wou "aan"-wys, wou ek ook naderhand in my gedagtes begin "piek" onder die werkende jongmense. Want "werkende jongmens" is darem 'n vreeslike wye begrip. En die gevaar is dat as 'n mens 'n te wye doek gebruik, al jou beelde naderhand uit fokus is. Vir diegene wat daama moet kyk, bestaan die gevaar dan dat hulle, omdat hulle nie alles gelyktydig in die oog kan kry nie, elke keer die aandag op die minder-belangrike toespits - en so loop hulle die eintlike verhaal mis.

Om daarom alle onduidelikheid uit die weg te ruim, wil ek dadelik vir myself en die leser my gespreksgenoot aanwys:

Ek wil gesels met die naskoolse ongetroude Christen-Afrikanerjongmens wat een of ander beroep beklee.

M.a.w. dit gaan hier oor alle Christen-Afrikanerjongmense wat sweet in hul "aangesig" - nog altyd vir my 'n lekker woord.

D.w.s. die fokus is op die styselwit verpleegster, die vuilnael "eppie" (vakleerling), die kokkie ontvangsdame, die leertaai messelaar, die styweboordjie pennelekker (staatsamptenaar), die dienswillige-dienaar klerk, die___

Ja, in hierdie gesprek is daar geen beroep wat voorrang bo 'n ander het of ondergeskik aan 'n ander staan nie. Want elke werkende jong Christen-Afrikaner wat sy roeping vervul weet:

    • dat hy 'n rat vorm in die masjien wat die beskawing laat voortbeweeg;
    • dat sy tik aan die geskiedenis van 'n volk se wil om voortbestaan;
    • dat hy 'n skof werk in 'n onbekende Raadsplan;
    • dat hy die bedrading herstel in die kortsluiting wat plaasgevind het na die sondeval.

Hiermee wil ek my nie skuldig maak aan goedkoop moedinpraat nie. Ek weet van daaglikse beroepsfrustrasie en arbeids-onrus in die gemoed. Maar, die geskiedenis is geskryf op beskeie pligsvervulling en nederige taakvolvoering. Want wie sal die rol ontken van:

  • die skeepsjongens op die skepe van 1652
  • die Vryburger-handlangers op die eerste plase van 1657
  • die skaapwagters tydens die Groot Trek van 1838
  • die trein-stokers tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899
  • die verpleegsters tydens die griep van 1918
  • die messelaars na die aardbewing van 1969.

Wie sal die rol ontken van daaglikse taakvervulling in son en reën, in kantoor en fabriek, in stilte en gedreun, in belang van Suid-Afrika? Want Suid-Afrika is elke Christen-Afrikanerjongmens se werkgewer.

Omdat ons dan vir Suid-Afrika werk, daarom is ons werk anders. Want Suid-Afrika is die mees ruimhartige werkgewer wat 'n arbeider kan idealiseer.

    • Want, vir elke sweetdruppel wat op sy grond val, gee Suid-Afrika goudstof terug aan sy kinders,
    • Vir 'n uur oortyd in die nag, gee Suid-Afrika ure van sonlig bedags,
    • vir toegewyde afhandeling van eentonige sleurwerk gee Suid-Afrika afwisselende natuurkontraste,
    • vir pligsvervulling in 'n vaal kantoor gee hy Namakwalandse blommeprag,
    • vir elke kind hou hy 'n rotsstewige wieg gereed en vir elke grysaard reserveer hy 'n praalgraf van wydse velde.

Bowe-al bied Suid-Afrika huisvesting aan die Christelike beskawing, wat

  • geplant is toe handelaars in 1652 op die Kaapse strand o.a. gebid het: "... so bid ons U, o allergenadigste Vader dat U ons met U vaderlike wysheid wil bystaan . . . sodat ons in ons beraadslagings niks anders voorneem of besluit as wat mag strek tot grootmaking en verheerliking van U allerheiligste Naam...";
  • ontkiem het toe kleremakers en skrynwerkers as Geuse en Hugenote hulle ter wille van hul geloofsoortuiging hier kom vestig het;
  • gegroei het toe boere by Bloedrivier bely het: "... Want de eere Gods zal erdoor veerheerlijkt worden, dat Hem de roem en de eer van de overwinning worde gegeven";
  • rypgeword het toe werktuigkundiges, kelners, bank-tellers - en noem maar op - hulle ja-stem uitgebring het vir die Republiekwording van Suid-Afrika met as grondwet-aanhef: "In nederige erkentlikheid teenoor die Almagtige God, Beskikker oor die lotgevalle van die nasies en die geskiedenis van volkere . . . verklaar ons... ."

En van hierdie Christelike beskawing vorm elke werkende jong Afrikaner 'n onderdeel. Let wel, nie 'n ondergeskikte deel nie, want die Afrikanervolk ken nie onder- en bo-klasse nie, maar slegs verdeling van adellike take.

Daarom werk elkeen, wat met toewyding vir Suid-Afrika werk, ten diepste vir die Christelike beskawing. Is só 'n werkgewer nie die moeite werd om te bewerk met ons sweet, te beskerm met ons bloed, te bemin met ons hart, te bebou met ons hand, te bedien met ons tyd nie?

Miskien is dit omdat ons ten diepste werk vir die Christelike beskawing dat ek nog nooit gemoedsrus kon kry met die gebruik wat jongmense het om te praat van hulle "baas" vir wie hulle werk nie.

'n Christen-Afrikaner werkende jongmens het 'n hoof, of 'n bestuurder, of 'n . . . Die "baasskap" van ons lewens is slegs in die hande van die Drie-Enige God.

Omdat ons dan slegs een "Baas" het, daarom staan ons met ons onderskeie arbeids-opdragte gelykwaardig langs mekaar. Want, Hy "piek" elke Christen-Afrikanerjongmens wat Sy Koningskap aanvaar as werknemer in Sy Koninkryk.

 

Laaste keer geredigeer: 2008  / Geplaas: 31 Maart 2017

Op die Drumpel ingevoeg 19 Okt 2018, Geplaas: